Is the same plea any stronger in Afrikaans?
April 18th, 2009
Hierdie is ’n pleidooi aan Jacob Zuma: Gryp die oomblik van jou verkiesing en jou verheffing tot president aan om jou verhouding met die media op ’n nuwe grondslag te plaas. Jy kan nie, jy kan eenvoudig nié jou presi?dentskap begin deur redakteurs, koerante, skrywers en spotprentkunstenaars te dagvaar nie.
Dit het vandeesweek bekend geword dat jy die joernalis Simon Jenkins, gewese redakteur van The Times in Londen, dagvaar oor iets wat hy in The Guardian geskryf het.
Ek kan insien dat sy woorde jou woedend kon gemaak het: niemand hou daarvan om so afgeskryf te word soos wat hy met jou gedoen het nie, met minagting en meer as ’n bietjie kulturele snobisme. Om nie eens te praat van die verwysings na beweringe wat in die hof verwerp is nie.
Maar as president sal jy bo dit moet uitstyg, jy moet leer om nie die aas te sluk nie, jy moet – om dit prontuit te stel – presidensieël wees. En dit beteken dat jy nie jou tyd en die belastingbetalers se geld daaraan kan bestee om jou kritici in die hof aan te vat nie, ongeag hoe hulle jou ook al beledig.
As jy dink jy gaan hulle ’n les leer, soos jou verklaring impliseer, is jy verkeerd.
Jou Londense regsverteenwoordigers het só namens jou gesê: “Die media moet korrek en eerlik berig. Dit is nie regverdig dat hulle leuens plaas, kwessies verwring of oordryf net ter wille van sensasie en verhoogde inkomste nie. Hoe kan hulle toegelaat word om iemand se reputasie só te skaad? Die wêreld het ’n media nodig waarop almal kan vertrou, ook in Brittanje. In dié saak is ek genoodsaak om op te tree waar ek te nagekom is.”
Of jy nou reg of verkeerd is, mnr. Zuma, jy gaan ’n gek van jouself maak deur hierdie ding hof toe te vat en hulle as’t ware uit te nooi om in die openbaar al die beweringe, bespiegelinge, gerugte en getuienis wat nog ooit in verband met jou gemaak is, te ondersoek. En, of jy nou daarvan hou of nie, daar ís ’n hele paar sulke goed uit ’n lewe wat in volheid geleef is.
Hulle sal in jou geskiedenis delf, in jou rekord en al die sake teen jou. Die verkragting-vryspraak gaan weer en weer opgehaal word, deur al die media wat die saak dek. Die stort gaan permanent op jou kop vasgespyker word. Zapiro se roem sal versprei.
Ná ’n lang, vieslike geveg, kan jy dalk wen. Of jy kan verloor. Jy, beter as enigeen, behoort te weet howe is onvoorspelbare plekke. Jy kan op ’n tegniese punt verloor. Jy kan uitgevang word. Jy sal moet gaan getuig in Londen en sal onder kruisondervraging wees deur die beste Britse regslui, en dit sal onbetaamlik wees vir ’n president.
Ek vermoed selfs al wen jy, sal dit ’n Pyrrhus-oorwinning (skynsukses) wees.
In jou nuwe taak sal jy moet optree in belang van die land, nié van jou eie reputasie en ego nie. Sal dit goed vir die land wees as die president al sy tyd daaraan bestee om met buitelandse joernaliste en koerante te baklei? Ek dink nie so nie.
As jy dié kritici verkeerd wil bewys, doen dit op presidensiële wyse: deur te fokus op die moeilike en dringende taak wat wag. As jy ’n suksesvolle president is, sal al hierdie dinge gou onsinnig lyk en sal dit vergeet word. Styg op bo die stort op jou kop, dan sal dit gou lyk of dit nie daar hoort nie.
Jy sal in jou hande groot mag en hulpbronne hê. Jy kan dit verkwis deur met windmeulens te probeer veg, of jy kan doen wat jy in jou verkiesingsveldtog belowe: om die behoeftes van ons land se armes aan te pak.
In hemelsnaam, dít is al ’n moeilik genoeg taak. Soos dit is, sal jy onder genoeg druk wees. Moenie gevegte aanknoop wat jy kan vermy nie.
Hierdie nuwe taak verg ’n dik vel. Mense gaan baie goed oor jou sê, regverdig en onregverdig. As jy dink jy kan hulle stop, maak jy ’n fout. Jy het ’n taak gekies wat jou verantwoordbaar maak aan die publiek, en dit plaas jou onder ’n skerp soeklig. Mense gaan alles wat al met jou in jou lewe gebeur het, intensief debatteer, en probeer om jou te laat rekenskap gee van dinge wat jy gedoen het.
Hulle gaan weer en weer vra of jy ’n vrouehater is. Hulle gaan jou vra oor Thami Zulu en hoe hy aangehou, gemartel en vergiftig is. Hulle sal vra oor daardie vergadering wat jy met die wapenverskaffers gehad het. Hulle sal vra oor al die geld wat aan jou gegee of geleen is deur vriende wat ook vir staatswerk getender het.
Ek is jammer, maar hulle is geregtig daarop. Hulle sal nie húl taak doen as hulle dit nie doen nie. As jy nie wil hê dié vrae moet gevra word nie, moet jy nie staan vir president nie.
As jy toelaat dat dit jou omkrap, sal jy afbreuk doen aan jou presidensie. As jy bo dit uitstyg, sal jou aansien en waardigheid verhoog word. En jy sal kan aangaan met belangrike sake, soos om seker te maak dat jy die beste moontlike kabinet kies, en een of twee lede jaarliks afdank net om die ander op hul tone te hou.
Dáár is nou vir jou ’n gedagte wat die moeite werd is om te bespreek!
Intussen is die Guardian-saak maar net één wat jy pak. Jy dagvaar ook ’n paar plaaslike koerante en selfs die spotprentkunstenaar Zapiro.
Gaan jy regtig aanvoer spotprentkunstenaars moet regverdig wees? En gaan jy probeer om dit toe te pas op alle humoriste? Dink jy dit sal ’n einde bring aan ongeskikte en uittartende grappe oor jou?
Dit gaan nie gebeur nie, mnr. Zuma.
Jou voorganger, pres. Mbeki – mag sy liewe politieke siel in vrede rus – het homself herhaaldelik benadeel deur hovaardig die media te kritiseer, of om sy intellektuele handlangers te kry om dit te doen. Of sy kritiek geregverdig was, is irrelevant. Dit is nie die rol van ’n president om ’n mediakritikus te wees nie.
In hemelsnaam, soos dit is, het ons genoeg diesulkes.
’n President moet leef en werk saam met die media en hulle gebruik. Hy moet probeer om die media te laat kommunikeer dit wat hy gekommunikeer wil hê, en hy moet probeer om hulle te gebruik om kennis te neem van en deel te neem aan debat, idees en voorstelle.
Het jy opgelet hoe pres. Barack Obama sy taak begin het? Hy het ’n onderhoud toegestaan aan ’n Arabiese TV-stasie, wat almal laat regop sit het, en hy het al die regse grootmenere – diegene wat hom tydens sy veldtog die meeste beledig het – na ’n ete saam met hom genooi. Dit het die wind uit mense se seile gehaal, né? Dit was, om die minste te sê, presidensieël.
En mnr. Sarkozy in Parys? Hy deel 600 miljoen euro se hulp uit aan koerante wat in die moeilikheid is, selfs daardie wat hom nie steun nie. Hy gee gratis inskrywing aan alle 18-jariges van die koerant van hul keuse. Dit is omdat hy besef hoe belangrik koerante is. Hy plaas die nasionale belang bo sy eie groot ego.
Die media is ’n werktuig wat jy kan gebruik as jy dit doen met vaardigheid en die soort politieke verstand wat jy in jou veldtog getoon het. Of jy daarvan hou of nie, dit is deur die media wat jy meestal met jou gehoor gaan praat. Die massas wat waarskynlik om jou gaan saamdrom op die vooraand van jou verkiesingsaamtrek is maar ’n klein deeltjie van diegene wat elke dag die koerant lees of dit inneem wat deur die radio en televisie gefiltreer word.
Die uitstekende ding is dat jou verheffing tot president jou die kans gee om jou verhouding met die media op ’n nuwe grondslag te plaas.
Dit beteken nie jy moet nou almal vergewe wat jou gelooi het nie, net soos hulle nie nodig het om jou te vergewe nie. Dit beteken wel jy kan probeer om met ’n skoon lei te begin deur aan te bied om al die dreigemente en regsgedinge teen die media te los in ruil vir regverdige behandeling of ’n blaaskans in jou eerste 100 dae sodat jy kan wys wat jy kan doen.
Jy sal verbaas wees hoe maklik baie van die media daartoe gevlei kan word om saam met jou te werk pleks van teen jou. Nie ál die media nie – dankie tog, want dit sal ’n ramp wees – maar minstens genoeg om dit vir jou die moeite werd te maak.
Wees ’n president, meneer die president. Los die kritiek op die media vir diegene wat niks beter het om te doen nie. Soos ek.
*Translation courtesy of Beeld newspaper
Entry Filed under: Anton Harber, Media regulation, Print



Leave a Comment
Some HTML allowed:
<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>
Trackback this post | Subscribe to the comments via RSS Feed